These blogs feature agricultural insights and information written by various authors, editors from different publications, and members of the general public. We update regularly, so be sure to check back for new posts.
Landbou, gemeenskap, kreatiwiteit en die natuurlike skoonheid van die Kaap kom van 9 tot 12 September 2026 by Bredasdorp Park byeen wanneer NAMPO Kaap besoekers verwelkom. Benewens sy landbou-uitstallings, masjinerie, tegnologie en produsentegerigte program, bied NAMPO Kaap ’n uiteenlopende leefstylervaring met die Santam Landbou Vroueprogram en die jaarlikse Fynbosblomme-uitstalling.
Hierdie trekpleisters weerspieël die mense, kultuur en landskap wat die landbougemeenskap sy unieke karakter gee, terwyl dit verwelkomende ruimtes skep waar besoekers kan skakel, leer en inspirasie vind.
Die driedaagse Santam Landbou Vroueprogram vind van Woensdag 9 September tot Vrydag 11 September in die Distinctive Choice-tent op die grasperk voor die BKB-gebou plaas. Die program word deur seremoniemeester Benescke Janse van Rensburg aangebied onder die tema “Waar boere, kos en ’n gemeenskap saam groei”.
Besoekers kan uitsien na inspirerende gesprekke, leefstylinhoud, kos, geloof, musiek en verhale van veerkragtigheid.
Hoewel die program met vroue in gedagte saamgestel is, word mans ook hartlik uitgenooi om die sessies by te woon. Besoekers kan uitsien na ’n groter tent as in vorige jare, wat meer ruimte vir hierdie gewilde program bied. ’n Groot skerm sal ook buite die tent aangebring word sodat meer besoekers die aanbiedings en optredes kan volg.
Die program word deur Santam Landbou geborg, met ondersteuning van CFAO Toyota, Bredasdorp Park, AFGRI, Graan SA, Efficient Group, LIFT, Distinctive Choice en B Promotions.
Benescke Janse van Rensburg open die program, gevolg deur ’n gesprek met Sumarie Jordaan oor hoe ’n mens jou perspektief kan verander. Countrymusikant Chris Else sorg vir die oggend se musiekvermaak, gevolg deur Mel die Storieteller met “Vrouwees en ander dramatiese gebeure” en Damian Beer.
Lynette Beer bied “Saad van inspirasie” aan, gevolg deur Dawid Botha met “Seëkos op die plaas.” Die dag word afgesluit met ’n optrede deur Brendan Peyper.
Benescke Janse van Rensburg gesels met Koben Hofmeyr oor sy verhaal, “Ek kan weer loop.” Musiek deur Franna Benadé word gevolg deur Willem Botha se “Maak jou mooi, dis naweek”-aanbieding.
“NAMPO Kaap gaan oor meer as uitstallings en innovasie; dit gaan ook oor die mense wat landbou, koskultuur en gemeenskapslewe vorm,” sê Burre Burger, organiseerder van die vroueprogram. “Hierdie program bring dié verhale na die verhoog op ’n opbouende en toeganklike manier. Dit bied aan besoekers die geleentheid om stil te staan, te luister, te lag, te leer en met mekaar te skakel.”
Die Fynbosblomme-uitstalling sal besoekers weer in die Voermoel-saal verwelkom met grootskaalse installasies, inheemse plantmateriaal en kreatiewe blomkuns wat die besondere diversiteit van die Kaapse blommeryk vier.
Die uitstalling word gekureer deur die kreatiewe blomkunstenaar Marjolijn Malan, wie se installasies oor die jare ’n gewilde deel van NAMPO Kaap geword het. Die 2026-uitstalling ondersoek wat deur die natuur en die plaaslike landskap geïnspireer is. Die kreatiewe konsep is gegrond op die uitdrukking “Almal wat NAMPO Kaap toe kom, is dieselfde dam se ganse.”
Besoekers kan uitsien na ongewone en seldsame spesies, inheemse plante met betekenisvolle stories en fynboslandskappe waarin natuurlike plantmateriaal en verbeeldingryke ontwerp tot lewe gebring word.
’n Hoogtepunt sal die blomrangskikkingkompetisie wees, waartydens gevestigde blomontwerpers van Kaapstad tot George bekende inheemse spesies deur hul werk sal uitbeeld. Lede van die publiek sal weer vir hul gunstelinguitstalling kan stem, waarna die wenontwerper aangekondig sal word.
Malan se internasionale erkenning verleen verdere aansien aan die 2026-uitstalling. Sy is deur die Suid-Afrikaanse Flora-unie gekies om Suid-Afrika as blomdemonstrateur by die World Association of Floral Artists se wêreldskou in Sydney, Australië, in Maart 2027 te verteenwoordig. Hierdie internasionale geleentheid vind slegs een keer elke vier jaar plaas en word as een van die voorste geleenthede op die wêreldwye blomkunskalender beskou.
Deur die vroueprogram en Fynbosblomme-uitstalling bied NAMPO Kaap aan besoekers die geleentheid om nie net landbou-innovasie en sakebedrywighede te ervaar nie, maar ook die musiek, kos, kreatiwiteit, natuurlike erfenis en gedeelde ervarings wat die plattelandse gemeenskap vorm.
Kaartjies vir NAMPO Kaap 2026 is aanlyn beskikbaar deur die bestaande kaartjieplatform. Kaartjies is nie dagspecifiek nie en kan op enige van die vier dae gebruik word.
9 tot 11 September: 08:00 tot 17:00.
12 September: 08:00 tot 14:00.
Vir verdere medianavrae: Kontak Alzena Gomes by 082 463 4356 of stuur ’n e-pos na alzena@grainsa.co.za.
Persverklaring, Graan SA en Bredasdorp Park NPC

General Enquiries:
info@farmandfield.co.za
Editorial & Farm & Field information
Editor@farmandfield.co.za
Subscribe to our mailing list



